Test
Download document

JONKER, Ingrid


Afskeid

Dit was jou laaste onversoenb're wens

Dit lê my laaste hoop aan bande:

Daarna was ek nie meer dieselfde mens

en staan ek met jou skraal groet in my hande.

En leef jy in portrette en ou drome.

en leef jy in my siel volmaak en vry:

Wit vlieg die voëls verby die bome

Uit tien wit briewe spreek jou stem tot my.


Toe moes ek my van andere afwend
En toe my ongeneesbaarheid vermoed

Jy sal jouself vir my nooit skend

Want in my hande lê jou laaste groet.




BITTERBESSIE DAGBREEK

Bitterbessie dagbreek
bitterbessie son
'n spieël het gebreek
tussen my en hom

Soek ek na die grootpad
om daarlangs te draf
oral draai die paadjies
van sy woorde af

Dennebos herinnering
dennebos vergeet
het ek ook verdwaal
trap ek in my leed

papegaai-bont eggo
kierang kierang my
totdat ek bedroë
weer die koggel kry

Eggo is geen antwoord
antwoord hy alom
bitterbessie dagbreek
bitterbessie son


Bitter-berry daybreak

Bitter-berry daybreak
bitter-berry sun
a mirror has broken
between me and him

I try to find the highway
perhaps to run away
but everywhere the footpaths
of his words lead me astray

Pinewood remember
pinewood forget
however much I lose my way
I step on my regret

Parrot-coloured echo
tricks me tricks me on
until I turn beguiled
to retrieve the mocking song

Echo gives no answer
he answers everyone
bitter-berry daybreak
bitter-berry sun

 
  Vertaling: Antjie Krog & André Brink



Ek herhaal jou

Ek herhaal jou

sonder begin of einde

herhaal ek jou liggaam

Die dag het ’n smal skadu

en die nag geel kruise

die landskap is sonder aansien

en die mense ’n ry kerse

terwyl ek jou herhaal

met my borste

wat die holtes van jou hand namaak


As jy weer skryf

(Vir Jack)

As jy weer in jou dagboek skryf
Onthou
Om die goue blaar te sien in die somerson
Of miskien die blou moederkappie
Op een van ons afwesige wandelinge
Teen Tafelberg
Ek wat my bloed vermeng het met die bloed van
Die son saans in Lissabon
Het jou saamgedra soos’n spieël
En ek het jou geskryf
Op die oop bladsy
Van my treurigheid
Jou naamlose woord
As jy weer in jou dagboek skryf
Onthou
Om in my oë te sien
Die son wat ek nou vir altyd bedek
Met swart vlinders


Die kind wat dood geskiet is deur soldate by Nyanga

Die kind is nie dood nie

die kind lig sy vuiste teen sy moeder

wat Afrika skreeu skreeu die geur

van vryheid en heide

in die lokasies van die omsingelde hart

Die kind lig sy vuiste teen sy vader

in die optog van die generasies

wat Afrika skreeu skreeu die geur

van geregtigheid en bloed

in die strate van sy gewapende trots

Die kind is nie dood nie

nòg by Langa nòg by Nyanga

nòg by Orlando nòg by Sharpville

nòg by die polisiestasie in Philippi

waar hy lê met 'n koeël deur sy kop

Die kind is die skaduwee van die soldate

op wag met gewere sarasene en knuppels

die kind is teenwoordig by alle vergaderings en wetgewings

die kind loer deur die vensters van huise en in die harte

van moeders

die kind wat net wou speel in die son by Nyanga is orals

die kind wat 'n man geword het trek deur die ganse Afrika

die kind wat 'n reus geword het reis deur die hele wêreld