Test
Download document

CELLIERS, Jan F.E.


Dis al

Dis die blond,
dis die blou:
dis die veld,
dis die lug;
en 'n voël draai bowe in eensame vlug -
dis al

Dis 'n balling gekom
oor die oseaan,
dis 'n graf in die gras,
dis 'n vallende traan -
dis al


Trou

Ek hou van 'n man wat sy man kan staan,

ek hou van 'n arm wat 'n slag kan slaan,

'n oog wat nie wyk, wat 'n bars kan kyk

en 'n wil wat so vas soos 'n klipsteen staan!

Ek hou van 'n man wat sy moeder eer,

in die taal uit haar vrome mond geleer,

die verraaiersgeslag in sy siel verag

wat, haar verstotend, homself kleineer..

Die oog wil ek sien wat 'n traan nog ween

vir 'n heldegeslag, in hul rus daarheen,

maar 'n blits van trou in die traan van rou,

wat aan liefde weer gee wat haar bron is ontleen.

Vir my d'Afrikaner van durf en daad,

wat mammon's eer en loon versmaad,

sy hoof en sy hand vir sy volk en sy land

en 'n trap van sy voet vir laag verraad!


O, 'k hou van 'n man wat sy man kan staan;

ek hou van 'n daad wat soos donder slaan,

'n oog wat nie wyk, wat 'n bars kan kyk

en 'n wil wat so vas soos 'n klipsteen staan!


Die ossewa

Die osse stap aan deur die stowwe,

geduldig, gedienstig, gedwee;

die jukke, al drukkend hun skowwe -

hul dra dit getroos en tevree.

En stille, al stuiwend en stampend,

kom stadig die wa agterna -

die dowwe rooi stowwe, al dampend,

tersy op die windjie gedra.

Die middagson brand op die koppe,

gebuk in hul beurende krag;

hul swaai heen en weer in die stroppe -

en ver is die tog van die dag.

Dit kraak deur die brekende brokke:

die opdraans is ver en is swaar;

die knars in die knakkende knokke,

maar hul beur, en die vrag bring hul daar.

So, stom tot die stond van hul sterwe,

blyf ieder 'n held van die daad...

Hul bene, na swoeë en swerwe,

lê ver op die velde verlaat .


Die vlakte

Ik slaap in die rus van die eeuwe gesus,
ongesien, ongehoor,
en dof en loom in mij sonne-droom,
ongewek, ongestoor.
Tot die ijl-blouwe bande der ver-verre rande
skuif mij breedte uit,
wijd-kringend aan d’ puur alomwelwend asuur
dat mij swijgend omsluit.

Die aarde was jong toen mij bodem sig wrong
uit die diep van d’ meer;
en die waa’tre o’erswewend kwam lewenskrag gewend
die gees van die Heer.
Uit die woelende nag van haar jeugdige krag
brag die aarde voort
Lewiatansgeslagte, geweldig van kragte,
– storm-ontruk aan haar skoot.
Diep in mij gesteente berg ik hul gebeente
d’geheim van hul lewe en lot;
maar gewek uit die sode herleef uit die dode,
naar d’eeuwig hernieuwingsgebod,
die stof van d’ verlede in vorme van d’ heden,

in eindeloos kome en gaan;
wat die dood mij vertrouwt, ik bewaar ‘t als goud,
en geen grein die ‘k verlore laat gaan.

Als die son o’er mij vloer in die more kom loer
en die douw van mij lippe kus,
dan draai ik mij stom met ‘n glimlag om
en lê maar weer stil in mij rus.
Hoog bowe die kim op sij troon geklim,
is hij heer van lewe en dood;
naar wil en luim geef hij, skraal of ruim,
verderf of lewensbrood.

Uit gloeiende sfeer brand hij wreed op mij neer
tot mij naaktheid kraak en skroei,
en mij koorsige asem in bewende wasem
al hijgend mij bors ontvloei.
In sij skaduwtje rond-om sij stam op die grond
staat ‘n eensame dorenboom,
so’s die Stilte op haar troon, met doorne gekroon,
wat roerloos die eeuwe verdroom.
Geen drop v’r die dors aan mij stofdroge bors,
mij kinders versmag en beswijk,
en die stowwe staan so’s hul trek en gaan
om mij skrale dis te ontwijk.

So’s ‘n vlokkie skuim uit die sfeere se ruim
kom ‘n wolkie aangesweef,
maar hij groei in die blouw tot ‘n stapelbouw
van marmer wat krul en leef,
– kolossaai monument op sij swart fondament,
waar die bliksem in brul en beef.
En O, met mij is die windjes blij,
hul spring uit die stof o’erend,
en wals en draai in dwarrelswaai
o’er mij vloer, van end tot end;
die gras skud hul wakker om same te jakker
tot hij opspring uit sij kooi.

en so’s mane en sterde van ja’ende perde
sij stengels golf en gooi.

Met dof-sware plof, so’s ko’els in die stof,
kom die eerste druppels neer,
tot ‘t ruis alom so deur die gebrom
en gekraak van die donderweer.
Met klouwe vooruit om te grijp en buit
jaag ‘n ha’elwolk langs verbij,
so’s ‘n perde-kommande wat dreun o’er die lande
vertrap en geesel hij,
– en sij lijke-kleed sien ik ver en breed
in die awendson gesprei.

Stil in die duister lê ‘k so ‘n luister
hoe die spruite gesels en lach;
maar bowe die pak van mij wolke-dak
het die maan al lank gewag;
nou breek en skeur hij ‘n baan daardeur
om te deel in mij vreug benede,
hij sprei die waas van sij romig-blouw gaas,
– en ik lach so stil-tevrede.
Plek op plek, so’s die wolke trek,
sweef die skaduwe onder mee,
so’s eilande wijd o’er die waat’re verspreid
op die boesem der grote see.
Met ‘n afskeidskus gaat die maan ook ter rus
en ik wag op die dageraad,
so skoon en so mooi so’s ‘n fris jong nooi
wat lach in haar bruidsgewaad.

O’er die bulte se rug slaat die gloed in die lug
van brande wat ver-weg kwijn,

en doornbome fluister in die rooi skemerduister
van gevare wat kom of verdwijn.
Uit slote en plas, uit die geurende gras,
stijg ‘n danklied op ten hemel,
en ‘t is of ik hoor hoe die krekies se koor
weergalm uit die sterregewemel;
waar werelde gaan op hul stille baan
tot die ende van ruimte en tijd;
so, groots en klaar, staat Gods tempel daar,
wijd – in sij majesteit.