Test
Download document

ROUSSEAU, Ina


Eden

Staan daar nog in Eden êrens,
verlate soos 'n stad in puin,
met poorte grusaam toegespyker,
deur eeue die mislukte tuin?

Word daar nog die swoele dae
deur swoele skemering en nag vervang
waar donkergeel en purper vrugte
verrottend aan die takke hang?

Sprei daar ondergronds 'n netwerk
soos sierkant deur die rotse heen:
die sware, onontgonne riwwe
van goud en onikssteen?

Vloei daar deur die natgroen struike
nog met kabbeling wat ver weerklink,
die viertal glasblink waterstrome
waarvan geen sterfling drink?

Staan daar nog in Eden êrens,

Verwaarloos soos ’n stad in puin,

Gedoem tot langsame verrotting

Deur eeue die mislukte tuin?


Katedraal

Storm: ek kan die angs van die geeboue

wat verwilderd aan my voete lê, nie meer verduur.

Na duisend eeue bly my vorm nog behoue

soos ’n gebalsemde figuur, maar om my hurk die mure

kwynend soos die lywe van verdorde vroue …

Terwyl die weerlig en die winde hees

gebreekte stene en sinkplate in die strate slinger,

staan my gedaante skuldig en bedees

tussen die skerwe en bouvalle,

hunkerend na hul onmag en hul vrees …

En daarom bid ek: Ruk my, ruk my neer –

laat my ook soos die ander sterflik wees…


Gewaarwording in die herfs

Ek wat reeds was in daardie donker dal

van pyn wat vir my vol verskrikking was,

weet nou dat na jou dood die fyne gras

veel teerder in die herfswind bewe, en die val

van bloue reën oor smal, geboë bome

my vaster aan die wonder van die aarde bind.

Die drang wat na my aangedryf kom op die wind

bring weer die diep verrukking van my eerste drome,

want anders het die bloue dae my geword,

en die verdorde blare wat op winde gaan.

En anders vloe die sonlig deur die laan

en langs die voor wat langs die kieselstene stort.

Ek moet nou dikwels al die dinge wat moes sterf

in diep vertedering herdenk deur dié gety.

Hoe sou jy hierdie prag waardeer het as ook jý

deur pyn van wording só ’n aarde kon beërf.