Test
Download document

STOCKENSTRŐM Wilma


Ek wantrou woorde

Ek wantrou woorde, hulle wat met die heraldiek
van die digkuns gruwel omborduur
tot heldedade, in vierverdeelde kleure,
skel wapperend. Met woorde word die huis
van verraad behang. Met woorde die doodsvonnis
gevel. Veral twyfel ek
aan die pralende Woord verwring tot goue
ontploffings van barokaltare en aasvoëltogas,
die Woord wat die seën uitspreek oor sinisme.
Woorde vang my in ’n kou en ek klou
onderstebo aan die stafies soos ’n papegaai, protesterend
in klank en kleur, vloekryk, magteloos.
Woorde is rampe, rampe, rampe!
Wys my ’n woord, ene, wat nie kul nie.
Noem my ’n woord wat ek nie onmiddellik kaatsend
sal nasê in die afstande tussen my en die ander,
bollend toegerank met die doringdraad van woorde.
In die begin was die ontsnapping, en bly dit steeds.