Test
Download document

VAN DEN HEEVER, Toon


Verlange

Die son daal in glorie ; basuine
Steek op in die hemel van kleur
En knetter oor rotse en duine,
Wat die troos van sy taptoe verbeur;
Die klowe word pers en die hange,
Die bergtoppe bloos in hul prag ;
Die wind blus die gloed en maak gange
Van groen en smarag.

Maar gee my ‘n dag op die Hoëveld,
Waar ‘n wilkerboom druip oor ‘n voor,
Waar die rooi vesels spoel in die water
En die vinkneste wiegel daaroor.
Ek wil douspore trap op die kweekvlak,
Ek wil groen sien en skoon asemhaal;
Ek is sat van die dal van Giloam,
Waar net knoetsige boom’graamtes praal .


Ter gedagtenis van Immelmann

Is Icarus gevalle, waarom huil die wind so sag?
Waarom strooi die meerminkore pêrels neer?
Hoor jy nie daar’s geen gelispel, net ’n droewe golweslag
En die nautilus pluik nou g’n purper meer.

Is Icarus gevalle in die vreemde, ver van huis,
Waar ons eie bulte nooit sy graf sal merk,
Maar in beddings van korale waar die skulpe ewig ruis,
Sy hoof geskraag op ’n gewrakte vlerk?

Is Icarus gevalle? Ja, hy kon ’n lae swerk
Nooit vir sy hoë moed genoegsaam vind,
En stygend steeds van kreits tot kreits met kloek gespanne vlerk
Trotseer hy altyd wakker weer en wind,

Tot sfere waar die vryheidson sy strale nydig hef
Met wimpers in die weste rooi omkrans;
Toe word meteens sy wieke met Apol se pyl getref –
Verseker was die val met sterreglans.

Ja, Icarus gevalle! Maar hy wou g’n slaaf meer leef,
Net wie nooit wil styg kan moeilik immer val,
Strooi blomme oor die water, laat die maagde kransies weef,
Wyl die water droewig weeklaag teen die wal.

Ja, Icarus gevalle! Maar solank die winde suis,
Solank die seeskulp fluister van die see,
Sal vertel word van die ridder wat gevel is ver van huis,
Vir vryheid en vir glorie, lank gelee!