Test
Download document

MALHERBE, D.F.

Groet

Ek hoor die Lente se mantel ruis,
sy gloriemantel ruis oor die lande,
dit blink in die dou van suikerbosrande
en fonkel in die pad se gruis.

Dit suisel-sing in jong groen koring
en plooi in die vleie se kuil-ferweel,
dit ruis in blompronk van vlakte-doring,
oor die ou ou Karo se gousblomgeel.

Dit ruis oor slymgras van watervalwande
Waar die botterboom blink in die lig van die maan,
in die silwersy van tonteldoekrande
voor die dagbreek die nanagsterre verslaan.

Ek hoor die Lente se mantel ruis
as die siel van my nasie rys uit verkwyning,
en kennis, selfkennis se daeraadskyning
die sluimerland vang waar skaduwees huis.

Die grootpad word sigbaar deur bloeiende tuine,
deur ploegland en braakland in môre-grou,
die grootpad deurslinger ver glansende duine,
en agter versterwe die nanag se rou.

Ek hoor die Lente se mantel ruis,
en geeskrag skuif ope die sluimergordyne,
en wilsdade fonkel soos warm robyne,
en perlemoer blink in die grootpad se gruis.