Test
Download document

VISSER, A.G.


Laetitia
'n Lied van my beminde

'n Lied van frisse maagdeskoon,

Blou oë waarin die hemel woon,

Van lokke wat met songoud gloei,

Van wange waarop rose bloei;

'n Mond waar soentjies lonk en lag.

Op lippe roos en warm en sag,

Van hande vlug en wit en fyn,

Bekoorlikheid in elke lyn;

Van skelme kykies op en neer

'n Glimlag van ons liewe Heer!

Lieftalligheid van Godsgena,

Laetitia Dulcissima!

'n Blye lied van blyste dag,

Die son breek deur die wolke-rag;

Die orrel speel 'n jubeltoon;

Daar kom 'n koningin te skoon:

My bruid, my skat, in wit gewaad!

'n Sluier oor haar lief gelaat.

Ons kniel tesaam voor Gods altaar

En liefde en trou sweer ons mekaar;

Dan blomgestrooi, musiekgeluid!

Was ooit so 'n dag, was ooit so 'n bruid?

'k Staar in verbeelding haar nog na

Laetitia Bellissima!

Van kleine Moedertjie 'n lied!

Die grote wonder was geskied;

Met oë stralend van geluk,

Haar eerst'ling aan haar hart gedruk.

So teer as Onse Liewe Vrou

Die Heiland spraakloos het aanskou,

Kon sy net kyk - niks anders doen

As telkens die klein handjies soen.

‘Is jy ook bly?’ vra sy bewoë,

Misterie, wonder in haar oë.

‘My hart kan sy geluk nie dra;

Laetitia Carissima!’

'n Lied van marmer-wit gesig,

Van dierb're oë sonder lig;

Die liewe lippe bleek en kil;

Die warme hart vir ewig stil;

Die hande op haar bors gekruis,

Vir lange rus in laaste huis;

Madonna-lelies op haar skoot,

O, kalme Skoonheid van die dood!

Die Heer het menig' ligpaleis

En daarheen sal haar siele rys

En daarheen volg my liefde haar na;

Laetitia Beatifica!


Swaansang

And the wild swan's death hymn

took the soul of that waste place

with Joy hidden in Sorrow.


Tennyson


Weerspieël in die stille stroom,

Sag vlietend na die see,

Die beeld van Werklikheid en Droom,

Dryf swaan en skaduwee.


Al singend wou hy sonwaarts styg

Vér deur die bloue swerk;

Al swygend het sy hoof geneig,

Want kragt'loos hang sy vlerk.


Maar plots'ling, met 'n wonderkrag

Ontvlam 'n wilde gloed;

Daar, met 'n magt'ge vleuelslag,

Styg hy vanuit die vloed.


'n God'lik skone lied weerklink -

'n Lied van liefdesmart.

O saal'ge dood, hy val, hy sink,

Gebroke was sy hart!


Die Tuinman

Spit, o Tuinman, spit diep, tot die aardlippe klou,

Drenk die vetste van aarde met lawendste dou

En dan wag. In die nag bring Hy blomkelkies broos,

Want Hy ken die geheim van die vorm van die roos.

Snoei, o Tuinman, snoei flink - hou die knoppe gerig

Na die son, want die roos is 'n kind van die lig:

Laat 'n sonstraal hul wek met 'n kus uit die Oos -

Hy ken ook die geheim van die kleur van die roos.

Spoel, o Tuinman, spoel goed - hou die vyande weg,

Rein van bloesem en blad kom die roos tot sy reg.

Slaap dan sag, want Hy kom voor die môre nog bloos

En Hy ken die geheim van die geur van die roos.

Vang, o Tuinman, die attar wat drup in die nag

En geniet van jou kleur-karnaval elke dag;

En as winter dan kom en jou tuin alles derf,

Dink: Hy ken die geheim van die skoonheid wat sterf.

Bid, o Tuinman, bid steeds, dat jou gaarde nie kwyn,

Dat haar heerlikheid nie van die aarde verdwyn,

Voor Hy eendag ook jou - en dit sy jou tot troos -

O so saggies sal weghark tesaam met die roos.