Test
Download document

TOTIUS


Die wêreld is ons woning nie

Die wêreld is ons woning nie.

Dit merk ek aan die son wat wyk,

en ‘k merk dit aan die reier wat

mistroostig na die son sit kyk

op een been, in die biesievlei.

En is die laaste strale weg,

dan rys ‘n koue op uit die vlei.

‘n Koue gril deurhuiwer my;

en ‘k sien dit dan in alle ding

wat in die skemer my omring:

die wêreld is ons woning nie.

Die wêreld is ons woning nie.

Dit sien ek as die bloedrooi maan

van agter veldstof opgegaan,

nog net die kerk se dak bestryk,

vanwaar ‘n uil, misterie-stom,

sit na die maan se skyf en kyk.

En nou dit stil word op die straat,

dink ek hoedat die middag laat

‘n lykstoet daar het uitgekom

waar nou die maan en uil ontmoet.

En ‘k merk dit dan aan alle ding

wat in die aandstond my omring:

die wêreld is ons woning nie.

Die wêreld is ons woning nie.

Dit voel ek as die wind ontwaak,

as die eikebome knars en kraak;

dit hoor ek in die fladdering

van voëltjies wat hul vlerke slaan

teen die verwarde boomtakke aan.

En as ek nader kom, dan vind

ek by die maan se wisselstraal

‘n nes vol kleintjies deur die wind

omlaaggeslinger, dood, verplet.

Ek voel dit dan aan alle ding

wat in die nagstond my omring:

die wêreld is ons woning nie.


Daar is geen dood


Daar is geen dood.

Wat lewe heet, is net die op en neer

as ons klein skuitjie al maar daal en klim;

en wat ons sterwe noem, is niks meer

as ons verdwyning op die gindse kim.


Daar is geen dood.

Ons wat van lae strand dit sien, en speur

hoedat hul vaart die afstand reeds vergroot-

ons kan nie sien wat anderkant gebeur,

en daarom noem ons die verdwyning: dood.


Daar is geen dood.

Ons lae standpunt is te laag en ver,

en hul ontseil ons sfeer van ruimte en tyd,

daarom word eindelik ons blik versper

wanneer hul roerpen stuur in die ewigheid.



Nag op die see, digby Aden


Dis alles see en alles donkerheid,

soos toe die aarde woes en ledig was

en nag gesweef het oor die wereldplas.


Geen horison of ster is sigbaar meer;

geen teken waar die oog op af kan gaan;

ek hoor net teen die skip die golwe slaan.


Tog vaar hy immer voort, hy vaar nou blind,

die voorpunt teen die donkerte gerig.

Op die kompas alleen val bundels lig!



Die sfinks van Memfis


Die leeueliggaam le nog soos altyd

in diepe rus, tog klaar tot selfverweer.

Die mensehoof staar in die wereld neer

met klare blik en kalme oorwogenheid.


Hier het 'n hand die stugge blok graniet

tot pure lewe en geeskrag omskep.

Maar mees bewonder ek hoe, ongerep,

'n glimlag effens oor die lippe skiet.


Ek het begeerte om soos die Sfinks te wees:

om in die lewensdinge in te staar

met rus en erns, met krag en insig klaar,

en met die sagte glimlag allermees.





Ek wou my ganse digkuns waag

Ek wou my ganse digkuns waag

om al my hartpyn uit te klaag;

om in my klanke uit te se,

om soos in marmer vas te le

die beelt'nis van my pyn.

Maar nerens vind ek daardie marmer

waar ek die beelt'nis uit kan slaan;

en al my klanke is eind'loos armer

as wat ek ondergaan.

Nee, 'k sal nie waag om 't uit te se.

Nee, 'k gaan tot God wat weet, en le

vas op my hart my regterhand

en snik: 'o God, dit b r a n d!


Ik zou mijn ganse dichtkunst willen wagen

Ik zou mijn ganse dichtkunst willen wagen

om al mijn hartzeer uit te dragen

om in mijn klanken luid te zeggen,

om als in marmer vast te leggen

de beeltenis van mijn pijn.

Maar nergens vind ik ‘t marmer

waar ik die beeltenis uit sla;

en al mijn klanken zijn eind’loos armer

dan wat ik onderga

Nee, ik zal ’t niet wagen ‘t nog te zeggen.

Nee, ‘k ga tot God die weet, om te leggen,

vast op mijn hart, mijn rechterhand

en te snikken: ‘o God, dit b r a n d t’

Vertaling: Z. DE MEESTER




Daar ruis ’n lied

Daar ruis 'n lied van lang verlee,

en stemme singend kom van ver;

en immer ruis my siele mee

met stemmelied van lang verlee -

uit d'eeue her.

Daar ruis 'n lied van lang verlee

wanneer die wind so sag verrys;

en immer, buigend na benee,

die bometop sing klaaglik mee

eenselfde wys.


Daar ruis 'n lied van lang verlee

in d'oseaan se maatgesang;

en immer ruis die skulpies mee

met d'eeulied van grote see -

diep opgevang.


Og, kon ek sing van lang verlee

gelyk die skulpies so getrou,

wat opgegaar, nog kleinlik gee

die weerklank van 'n wêreldsee -

by d'oor gehou.


Og, kon ek sing van lang verlee

gelyk die dentak hoog in top,

wat daar sy naaldjies klein-verbree,

opdat die wind sy oue wee

kan klaag daarop!


O, kom tot my uit lang verlee,

sangstemme, kom uit droomgebied,

deurruis my siel als avendbee

van westewind, soos verre see

se golwelied!


Die os

Hoe rustig stap hy aan
die edel jukgediert!
hoe waggel hy die kop
met horings swaar gesierd,
en stewig ingestrop!

Hoe rustig stap hy aan
so sonder tuiggetooi,
met natte dowwe plof;
syn vel trek plooi op plooi
rondom die breë skof.

So stap hy rustig aan
vol kalme majesteit
en ongesmukte prag -
beeld van stilswyendheid
én selfbewuste krag.

Steeds stap hy rustig aan
met rustelose drang,
by kou en sonnegloed;
maar snags versnel syn gang
om dagversuim te boet.

Nog stap hy rustig aan
als dage kommervol
doen bleek en krul syn gras;
hy skeer die hardste pol
en suip die modderplas.

Stap, stap dan rustig aan
en deel die trekkerslot;
die skaarste en owervloed,
daar in die land, waar God
ook is vir osse goed!


Die Paadjie Dof en Klein

(Op ’n woeste berg het die skrywer ’n kort entjie voetpad teëgekom)

Die mens wat in die wildheid dwaal,

en op die berge styg en daal,

is bly

as hy ’n voetpad kry.

Al is die paadjie nog so klein,

al sal dit netnou weer verdwyn,

die wandelaar se voet

gaan ongemerk dit ingemoet.

Dis troos vir hom, as hy alleen

sy pad soek deur die wildheid heen,

dat daar tevore mensen was

waar nou sy voet dwaal deur die gras.

Dis troos, ver in die woesteny,

dat daar ’n strepie bly, —

dat daar ’n entjie van ons weg

met ander saam word afgeleg.

o Lewens-wildheid grenseloos!

dit is ons, mense, ’n diepe troos,

die wetendheid:

’n ander het dieselfde stryd.


O die pyn-gedagte

O die pyn-gedagte: My kind is dood!

dit brand soos ’n pyl in my.

Die mense sien daar niks nie van,

en die Here alleen die weet wat ek ly.

Die dae kom en die nagte gaan

die skadu’s word lank en weer kort;

die drywerstem van my werk weerklink,

en ek gaan op my kruisweg voort.

Maar daar skiet aldeur ’n pyn in my hart,

so, dat my lewe se glans verdwyn;

Jou kind is dood met ’n vreeslike dood!

En  ek gryp my bors van die pyn.

O Die bliksemgedagte! . . . Ja, lieflingskind,

een straal het jou skone liggaam verskroei,

maar bliksemstrale sonder tal

laat my binneste brand en bloei.

Sy was so teer soos ’n vlindertjie,

sy’t lugtig omheen geswerf;

’n asempie wind kon haar vlerkies breek

en  kyk watter dood moes sy sterf!

Hoe weinig die kinders wat so moet sterf,

dis een uit die tienduisend-tal,

en ag, dat dit sy was, en ek moes sien

dat sy dood in my arms val!

O Die pyn-gedagte: My kind is dood! . . .

dit brand soos ’n pyl in my;

die mense die sien daar niks nie van,

en die Here alleen die weet wat ek ly.