Download document

DU PLESSIS, I.D.


IN DIE SLAMSE BUURT

Die maan sit in ’n mik* gevang

Van 'n afgeleefde appelboom

Wat met vermaerde vingers

Krampagtig aan die hemel klou.

Die rooi en swart kofias* buk

Om uit die resonante snaar

'n Trillende akkoord te pluk.

Die lig flits op 'n geel kitaar;

En soos ’n duiwetrop* wat swenk,

Swyg al die sangers,

Met vae leed bevange.

Nog net een oue kreun

'n Halfvergete melodie

Van hartseer en verlange.

* mik = vertakking, kofia = soort Afrikaanse fez, duiwetrop = duivenvlucht


Rietfontein

By Rietfontein se leidam, as die reier staan en droom,
En gepluimde peerboomtakke bloeisels sprinkel in die stroom,
Word op maanverligte nagte nog ‘n sombere tafereel
Van haat en lus en liefde deur gestorwenes afgespeel.

Wit is die water
En blond is die maan,
En bly is die paar
Wat gearmd daar gaan.
Versilwerde bome
Ruis in die laan;
Wit is die water
En blond is die maan.

‘n Honderd jaar gelede het die buurt se mooiste blom
So in die helder maanlig na die peerboomlaan gekom;
Maar terwyl sy en haar minnaar in confetti-bloeisels staan,
Het ‘n ander in die skaduwee langs die dam se wal gegaan.

Wit is die water
En bleek is die maan.
Wie is dit wat daar so
Geruisloos gaan?
‘n Huiwering trek
Deur die bome in die laan;
Wit is die water
En bleek is die maan.

O, salig die verrukking wat die suiwere liefde bring,
En vrolik het die harte van die paartjie daar gesing
By Rietfontein se leidam, in die wit lig van die maan;
Maar oorkant langs die peerboom het ‘n skaduwee gegaan.

Wit is die water
Maar bleker die maan.
Wie is dit wat daar so
Doelbewus gaan?
Verdonkerde bome
Bewe in die laan;
Wit is die water
Maar bleker is die maan.

Kortstondig soos die dou wat smôrens skitter op die roos,
Kortstondig was die enkel uur van samesyn se troos.
Op bloedbevlekte bloeisels lê die paartjie in die laan,
Terwyl ‘n swart gestalte onder peerboomtakke staan.

Bloed in die water
En bloed in die laan.
Wie is dit wat daar so
Roerloos bly staan?
Vormlose skaduwees
Kruip oor die maan;
Bloed in die water
En bloed in die laan.

By Rietfontein se leidam, as die reier staan en droom
En gepluimde peerboomtakke bloeisels sprinkel in die stroom
Word op maanverligte nagte nog ‘n sombere tafereel
van haat en lus en liefde deur gestorwenes afgespeel.

Bloed in die water
En bloed in die laan.
Wie is dit wat daar so
Skuldbewus gaan?
Vormlose skaduwees
Kruip oor die maan;
Bloed in die water
En bloed in die laan.


Eenling is die mens gebore


Eenling is die mens gebore

in die diepste van sy siel

skuil 'n plek waar, mens-verlore,

hy in eensaamheid moet kniel.


as kristal en silwer skitter,

ligte vonkel in die wyn,

raak die vreugde soms verbitter

in die uur van samesyn.


in die wilde blom se prag

wat die lente oral sprei

skuil 'n trooswoord vir 'n dag —

en die weelde is verby.


rykdom weef met sagte hande

om party sy goue draad —

geen bevryding van die bande

waarin eensaamheid ons laat.


middernagtelike ure

kan die skim 'n tydjie keer;

spoedig val die brose mure

en ons sien die spookbeeld weer.


eenling is die mens gebore;

in die diepste van sy siel

skuil 'n plek waar, mens-verlore,

hy in eensaamheid moet kniel.