Test
Download document

EYBERS, Elisabeth


Ouer Word

'n Eindigheid sprei langsaam, ongevra,

'n stipter onderskeiding word van krag.

Wat ek verloor het suig my terug in drome,

hul nagtelike helende verwarring;

wat oorbly dwing my voorwaarts, stoot of dra

my onversetliker van dag tot dag

met afgepaste tydverdryf en werk.

Ek hul my heelheidshalwe in 'n huis

wat stuksgewyse toeslik tot 'n kluis.

Iets wat 'k onthou: eens was ek 'n beminde

kind, tintelend van hiernamaalse onkunde,

deur louter eindeloosheid ingeperk.


Sonnet

Nou het ek jou reeds aarselend lief soos mens
die onvoltooide dinge sku bemin;
jy is nog niks as droom, ekstase, wens,
‘n lied wat ek nie duidelik kan versin.

Ek ken jou nie en kan jou skaars vermoed
maar dieper as die hamer van my hart
wentel jou ongeduld; ons deel één bloed
en, vreemd verenig, bly ons tog apart.

Wat sal díe dwase liefde later baat
as ek jou ken en tog nie langer het,
nie langer kan beskut teen alle kwaad
en alle teerheid langsaamaan verdwyn?

Die worsteling wat jou moet verlos is net
die aanvang van die skeiding en die pyn.


Die moeder

Die vreemde oorsprong van jou lewe het,

soos lig deur ’n kristal, deur my gevloei

in al die maande toe ek één was met

die stil geheim van jou verborgene groei.

En nou kan niks ons skei – want is jy niet

afhanklik en gebonde aan my bloed

wat met sy onbegryplike chemie

jou wonderlik gevorm het en voed?

En of die uur ver en vergete word,

en of die jare tussen jou en my

hul seile span, die see sy golwe stort,

of self die Dood sy somber baken steek,

nogtans sal jy aan my gebonde bly

met die onsigb’re naelstring wat nie breek.