Test
Download document

VAN WYCK LOUW, N.P.



Gesprek van die dooie siele

“Kan jy my woorde, liefste, hoor,

of iets die blanke stilte stoor

waardeur ons siele eensaam gaan,

veryl soos wolkies voor die maan –.

kan jy, kan jy my woorde hoor?”

“Weet ek dat dit jou woorde is,

en nie die bitter heugenis.

wat uit my eie hart nog spreek;.

weet ek dat wat die vlak hier breek,

die rimpeling van jou woorde is?”

“Uit hierdie diepste eenzaamheid

verlang ek nog na sekerheid,

dat al sou liefde nie verwaai

soos stoffies wat die winde saai

uit in die sterre-eensaamheid.”

“Hier in een ongebroke glans

is my eenselwigheid verskans,

en alle bron van fluistering

wel uit die diepste en laaste kring

van eie waterheldere glans.”

“O wink deur heurdie droefenis

waarin my siel verwilder is,

oor alle afgrond wat ons skei,

’n teken dat daar iets nog bly

tot smettelose gedachtenis.”

“Tot alle eindes uitgestraal,

waar vreemde laaste sterre dwaal,

is elk in God so uitgestort

dat hier geen smart tot teken word

waar elke deur alle dinge straal.”

“Ek sal die vlammegrens oorskry

wat my nou van jou wese skei,

deur alle duister sal ek tas

tot ek jou bloedwarm voel en vas

en indrink soos ’n drank in my.”

“’n Vreemde vlam van woorde klim,

’n verre bewing, bo die kim

van hierdie blanke stil bestaan,

waar ek my grote Godsweg gaan

verlore tussen lug en kim.”


Gesprek van de dode zielen

“Kan jij mijn woorden, liefste, horen,

kan iets de blanke stilte storen

waarin onze zielen eenzaam gaan,

verijld als wolkjes voor de maan -,

kan jij, kan jij mijn woorden horen?”

“Weet ik het of ’t jouw woord wel is,

en niet de bittere heugenis

die uit mijn eigen hart nog spreekt;

weet ik het of wat ‘t vlak hier breekt,

de rimpeling van je woorden is?”

“Uit deze diepste eenzaamheid

verlang ik nog naar zekerheid,

dat al zou liefde niet verwaaien

als korrels die de winden zaaien

in de sterren-eenzaamheid.”


“Hier in een ongebroken glans

is mijn eenzelvigheid verschanst,

en elke bron van fluistering

welt uit de diepste en laatste kring

van eigen waterheldere glans.”

“O wenk door deze droefenis

waarin mijn ziel verwilderd is,

over elke afgrond die ons scheidt,

geef teken dat daar iets nog blijft

tot smetteloze gedachtenis.”

“Tot alle einden zullen we uitstralen,

waar vreemde laatste sterren dwalen,

is elk in God zo uitgestort

dat hier geen smart tot teken wordt

waar iedereen door elk ding zal stralen.”

“Ik die de vlammengrens overschrijd

die me nu van je wezen scheidt,

ik om door alle duister op de tast

tot ik je bloedwarm voel en vast

en indrink als een drank in mij.”

“Een vreemde vlam van woorden klimt,

een verre beving, boven de kim

van dit blank stil bestaan,

waar ‘k mijn grote Godsweg zal gaan

verloren tussen lucht en kim.”

(Vertaling: Z. DE MEESTER)





Seemeeu


Lewe

en sterwe

is swewe

en swerwe

tussen blydskap se wolke

en see van die smart;

iets van die vuurvlieg,

iets van die ster,

en stilte en dood lê weerskant

soos die horison daar ver.


Zeemeeuw

Leven

en sterven

is zweven

en zwerven

tussen wolken van blijdschap

en zeeën van smart;

iets van de vuurvlieg,

iets van de ster,

en stilte en dood aan weerskanten

zoals de horizon ginds ver.

(Vertaling: Z. DE MEESTER)




Die Teken

Langs die stofpad in die witte somerson

het ek ’n vreemdeling gekry;

sy gang was van die wye westewind,

sy bruine oë blink en bly.

In puin van angs en twyfel aan myself,

soos een van god en mens verlaat,

en willoos, deur die oue, bitter drang gedryf,

het ek hom in my hart gehaat.

Droewig was sy verre oë soos die dou

toe hy sy hand verhef in sterk

en vrome stil gebaar, dat ek kon sien

die rooi vlam van die spykermerk.


Jy was ’n kind

Jy was ‘n kind, en al die helder wete

van bloed en maagdelikheid was in jou oë;

jou liefde was ‘n suiwer-afgemete

deel van jou aardse blydskap, en die hoë

gang van jou hare en borste teen die wind

was skugter met ‘n ver, ou aardse vrees;

jy het die weg van alle vreug gevind,

en waar jy was, moet altyd vreude wees.

Daarom is jy (in duistere vermoede),

soos in die aarde donker waters staan,

in al my dink, in al my dowwe woede

teen mens-wees en die lot, in al my waan

van mooier dinge, en menslike verdriet;

‘n laaste kuil van stilte tussen riet.


Ballade van die Nagtelike Ure

Ons liefde het uitgeblom

tussen elfuur en kwart oor twee –

hier sit ek onder die dagbreek

half-nugter en verlee

op koel stoeptreetjies êrens

waar ek ‘n blink waterkraan sien

in die ure van die donker dors

tussen twaalfuur en smôrens om tie

Om elfuur was jou liggaam

die honger en dors in my,

as jou skewe papier-kalot

ver deur die danssaal gly.

Om twaalfuur was jy ‘n ligte brug,

‘n hoë, gevaarlike gang

bo my klein verwildering

tussen pyn en sterwe gehang.

Om eenuur was jou hare

vir my vingers ‘n bose strik,

en jou lyf soos swart stil water

en jou asem soos ‘n snik.

En nou het die môre my

oor die rand van sy glas gemors

op die stoep by die kraan wat blink

in die uur van die donker dors.


Maria


Deur daardie tuintjie het sy stil gegaan,

haar hande need'rig oor haar bors gevou,

toe hy, verblindend soos die son, daar staan...

Drie witte lelies het hy in sy hand gehou.


Half-skaam, verleë, het sy opgekyk

en is opeens met grote vrees bevang:

sy oë het van haar nie afgewyk,

sy vleuels het oor heel die tuin gehang.


‘Geseën is jy onder die vroue’ - sy woorde -

of was dit winde? - verruis nog in haar oor,

toe hy teen die son in goue vlug verdwyn...


Sy het haar neergebuig en half-versmoorde

klein snikkies in haar hart gehoor,

van verlossing reeds die vreugde en die pyn.


Grense

My naakte siel wil sonder skrome

in alle eenvoud tot jou gaan,

soos uit diepe slaap ons drome,

soos teen skemerlug die bome

opreik na die bloue maan;

gaan met al sy donker wense,

en die heilige, nooit-gehoorde

dinge sê, waarvoor die mense

huiwer, en wat om die grense

flikker van my duister woorde.


/////////////////////////

…..
Moet ek vir iemand iets nog sê

in hierdie land

wat luid van alle stemme is

en blink en brand?

of waar die goue lug al lank

die aasvoël dra,

koud'n gedoemde waarheid weet

wat niemand vra?

…..


Paniese angs

God, hierdie angs, hierdie angs,

dit kan nie U uiterste openbaring wees:

hierdie verwarring van my oë,

hierdie wit-ogige vrees;

dat ek vrees nie die breek van my liggaam,

maar in my U geweldige beure;

hoe sal U my weerstand breek,

hoe slaat U en slaat U op my deure -

tot ek terugkrimp soos die see se water

voor U in my grote nood:

U styg, O God, tot my lippe

met die soutsmaak van U dood.


Vroegherfs

Die jaar word ryp in goue akkerblare,

in wingerd wat verbruin, en witter lug

wat daglank van die nuwe wind en klare

son deurspoel word; elke blom word vrug,

tot selfs die traagstes; en die eerste blare val

so stilweg in die rookvaal bos en laan,

dat die takke van die lang populiere al

teen elke ligte môre witter staan.

O Heer, laat hierdie dae heilig word:

Laat alles val wat pronk en sieraad was

of enkel jeug, en ver was van die pyn;

laat ryp word, Heer, laat u wind waai, laat stort

my waan, tot al die hoogheid eindelik vas

en nakend uit my teerder jeug verskyn.


Kom vannag in my drome

Kom vannag in my drome

as dit donker is en stil;

reik my jou hand deur die drome,

en ons sal dwaal waar ons wil.

Kom, in die sterreduister

sal ek jou siel erken;

soos elke nag in die duister

sal ek jou oë ken.

Soos rook sal ons siele sweef

steil deur die sterrenag,

bo oor die donker berge,

bo oor die donker nag.

Bo oor die blydskap en liefde

wat hierdie wêreld ken,

sal ons in roerlose straling

die ewige skoonheid ken,

Die skoonheid wat ons 'n oomblik

sien flikker en vergaan

tussen die donker dinge

waardeur ons lewes gaan

met ewig-stille weemoed en halwe herinnering

van iets wat was, en nog swewe

oor ons herinnering;

van iets wat ons nooit kan kry nie,

van iets wat ons nie kan sien,

die hart van droom en verlange,

dié sal ons siele sien,

Lief, as jy kom in my drome,

kom in die sterrenag,

en ons twee dwaal deur die drome

bo oor die donker nag.


Winter

Nou lê die aarde nagtelang en week

in die donker stil genade van die reën,

en skemer huise en takke daeliks bleek

deur die wit mistigheid en suising heen.

Dis alles ryk en rustig van die swaar

geheime wasdom wat sy paaie vind

deur warm aarde na elke skeut en blaar,

en ver en naby alles duister bind

in vog en vrugbaarheid en groot verlange;

tot ons ’n helder middag skielik sien

die gras blink, en die jong graan teen die hange,

en weet dat alle rus die lewe dien:

hoe kon ek dink dat somer ryker is

as hierdie groei se stil geheimenis?


Nog eenmaal

Nog eenmaal wil ek in die skemeraand

weer op ons dorp en by ons dorpsdam staan,

weer met my rek op in die donker skiet,

en luister, en al word ek seer en dof,

hoe die klein klippie ver weg in die riet

uit donker in die donker water plof


Nagreën

Die reën skuifel deur die straat,

verby my venster, mensverlaat …

Soos ’n trossie narsings wat verkwyn,

flikker die druppels teen my vensterruit

waar die geel straatlig daardeur skyn;

en voel die wind

met bleek vingers, soos ’n kind,

aan die swaar gordyn, wat plooi

in die lamplig, teer en droef papawerrooi.


Raka
…..
Die vroue het hom die eerste gewaar

in die loom namiddag toe die arbeid klaar

was - aan die stampblok, in die jong-groen landerye -

en hulle gedrie, geviere, in dun rye

met kruik en geel, wind-ligte kalbas

op heup en skouer deur die stekerige gras

rustig gestap het na die koel seekoegate

om daar te drentel tot die bruin en laat

skemering en die eerste sterre, met klam sand

en sagte modder om die enkels, in die hand,

om veel te lag en ure te praat,

of skugterig soms een-een uit te waad

deur die taai waterblomme, naak en blink ...

Raka, die aap-mens, hy wat nie kan dink,

wat swart en donlker is, van been en spier

'n lenige boog, en enkeld dier.

Oorkant die water het hy uitgestap

uit die gebreekte riete, en soos 'n kind wat om die grap

van 'n bont kalbassie tandeloos en stil lag,

wit gegryns en, neergehurk, gewag.

Die ander dag

toe die blou visvanger stil was na sy jag

oor die gladde, warm, seekoegate,

en klein geslaap het aan 'n takkie oor die water,

het die kinders hom gesien - Raka, die swart dier:

nou 't hy oor die sand vir hulle plesier

gebuitel, soos 'n perd gerol, gegryns, gespring,

met 'n mank dans gehuppel in 'n kring, -

en skielik in die water weggeplas

waar hy glad en vinnig soos 'n otter was.

'n Blink vis het hy op die san gegooi,

lank soos 'n man se skeen en rooi

en geel gevlek bo die wit maag, ...

maar meer as hul vrees het hy hulle behaag

met sy mal spronge, hulle het gevlug

lag-lag die biesies uit, maar lag-lag trug

gekyk oor hy so snaaks was; en bo in die kraal

met lag en skrik die ding verhaal.

Die manne het daarna sy krag bemerk

aan die tekens van die groot bosse: sy werk

moes dit gewees het as die swart buffelbul

wat die bosgange en grasruigtes vul

met hees snuiwe en bulk, smôrens styf

in die voetpad gelê het waar die swaar lyf

in die knieë geknak het; as die krokodil

hoog op die sand uit gelê het en ril

soos 'n klein akkedissie wat die kinders met 'n stok

geslaan het; - of die ou spiesvegter, die gemsbok,

oordwars, gebreek, stil tussen die polle was;

- as die vlakvark gelê het in die gras

met sy wit lemme, en sy oë soos 'n vis

se oë styf. Die jagters wis

wat krag was en hulle het gevrees.
…..


Wordende naakt

Nou gly die jakkie af, die donker-rooie,

van die linker- eers en dan die regterskouer,

dan glip die grys trui oor die donker kop

en leef die borsies in die buustehouer

dan skiet haar hande oor die okselboste

vinnig gekruis, en in ‘n oomblik val

die linte en die twee wit neste af

en tril die tweeling-bergies oor hul dal

soos sy die arms kouerig kruis weer, soos

sy die skouerknoppe vat, en bo die rôse

tepels en ses wit brûe van die ribbe

die sonbruin van haar elmboë bibber

die stukkies linne hang leeg oor ‘n stoel

en swaai nog skaars; die skoene val apart,

die kouse kom met baie stiebeuels af

en voor my staan jy in die ligte broekie

dan kom jy heel, bruin met wit, daaruit,

die ronde spiere van die dye óm die git.


Ballade van die bose

Ken jy my nou?

Het jy die spieël gesien

en ken jy jou?

Wanneer jy wil vlug

uit die stad wat brand,

dan vlug ek saam

soos 'n vrou aan jou hand.

Die veles meen

hulle ken my gesig,

maar ek skuil te glansryk,

te na aan die lig,

en as hul wil waarsku

en wysheid gee,

dan praat ek reeds

in die woordklank mee;

en die snelles vlug,

waarheen? vir wie?

ek is nie skoon

of aaklig nie,

en waar hulle vlug,

daar dra hul my mee

in die grys-wit groewe

van die senuwee.

Ek is ín jou

gevleg, gerank

soos 'n wortel in

in die donker bank,

en van voor die daeraad

se blank begin

straal ek by albei

jou oë in.

Weet jy genoeg:

wat God vereen het,

hoort saamgevoeg?

Ek is jou wese

se ondergrond

en ek trap in jou spoor

soos 'n goeie hond.

Toe God die aarde,

die silwer bal,

in vreugde en spel

uit sy hand laat val,

was ek die baaierd

waarin dit weeg,

die vormlose,

en woes en leeg.

Toe 'n stil vroeë water

- voor vis of net -

tot die eerste wit kiem

geëtter het,

was ek die donker

wat onder skuil:

die koue grond en

swart klip van die kuil.

Ek was die skaduwee

van Gods gang:

ál wat Hy verlaat het,

het ek gevang;

en nou dat jy groei

om die baasskap te hê,

is ek die rooi naelstring

waaraan jy lê.

Ek is jou wese

se ondergrond

en ek trap jou spoor

soos 'n goeie hond.

Wil die kennis nou kom:

ek is die grond

al is jy die blom?

Al is julle helder

en slank en vry

moenie dink dat julle

my dood sal kry,

of my strenge gang

op my baan sal stoor:

al is ek die hond,

ek hou die spoor,

ek blaf teen elke

horison

en as Gods Gees

voor die suiwer son

tot skoner gestalte

as julle is, skry,

sal ek weer helder wees,

slank en vry.

O waar sal jy gaan

en met watter skip?

die aarde is branding

en oral is klip,

of as jy wil vlug

uit die stad wat brand,

dan vlug ek saam

soos 'n vrou aan jou hand.

Ken jy my nou?

Het jy die spieël gesien,

en ken jy jou?