Test
Download document

DU PLESSIS, Koos


Kinders Van Die Wind

Ek ken 'n ou, ou liedjie

Van lewens wel en wee.

Van lank vergane skepe in

die kelders van die see.


Die woorde is vergete

en tog die deuntjie draal.

Soos vaag onthoude grepies uit

'n baie ou verhaal.


Van swerwers, sonder rigting.

Van soekers wat nooit vind.

En eindelik was almal maar

net kinders van die wind.


Gesigte, drome, name.

Is deur die wind verwaai.

En waarheen al die woorde is

Sou net 'n kind kon raai.


Swerwers, sonder rigting.

Soekers wat nooit vind.

En eindelik was almal maar

Kinders van die wind.


Gebed


Laat my nooit die grond verlaat nie.

Laat my in U skadu bly.

Gee dat elke aardse vreugde en vrees,

eindelik nietig word vir my.

Elke afdraai paadjie ken ek.

Elke keer het ek verdwaal.

Elke keer het u my iewers kom haal.

Maak dit Heer, die laaste maal.

Elke dag is n gedagte.

Elke kamer net gehuur.

Elke aardse droom van rykdom en roem,

net n skadu teen die muur.

Wat ek is, is net genade.

Wat ek het, is net geleen.

Eintlik smag ek na U waters van rus.

Lei my Heer vanaand daarheen.

Wat ek is, is net genade.

Wat ek het, is net geleen.

Eintlik smag ek na U waters van rus.

Lei my Heer vanaand daarheen.

Lei my Heer vanaand daarheen.