Test
Download document

LOUW, W.E.G.


Ek sal opstaan

Ek sal opstaan en na my vader gaan;
opstaan uit my vodde en my vuil;
opstaan en onder die volle maan
wat geel streep oor die vleiland, gaan en huil
aan sy breë skouer, en hóm saggies vra
om alles te vergeet, en te vergewe
die jongkrag van my hoon wat hy moes dra;
dat ek weer soos 'n kindjie klein die lewe
vol sonskyn voel, die vreugde van my werk
in die wingerd waar pers die swaar korrels hang;
dat ek weer voel my hande jonk en sterk,
die voorjaarskoelte saggies teen my wang –
Voorwaar, onmiddellik na my vader sal
en moet ek gaan, en aan sy voete val.


Ek Moet Nog Één Maal Weer Bemin

Ek moet nog één maal weer bemin
soos die seemeeu die see,
snik oor die blink waters van 'n siel,
en draai en draai oor die skaduskyn
van my eie beeld in haar -
Ek moet nog één maal weer bemin
soos die son die blomme, en straal
al die hitte en die brandgloed
van my siel oor haar -
nog één, net één maal
die bloedbitterheid van 'n soen voel soos die dood,
met trane eet my brood -


Herdenking

O my liefste, as die appelbloeisels
weer tenger aan die takkies hang,
moet ek dink aan jou en wonderlik
stil in my hart verlang
na daardie eerste laaiende liefdestyd
toe jy vir my was my daelikse brood,
die helder water wat ek drink
in my bitter eenlingnood...


Om boer te wees

O om 'n boer te wees wat werk
met sy hande in die son
die liewe, lange dag; om saans
moeg terug te kom
van die lande, en te slaap
tot die rooidag deur die vensters breek,
en teen die tweede hanekraai, oor die ryp,
die ploegstert vas te hou .

O om boer te wees en te werk
in God se sonskyn en reėn;
om nooit te twyfel dat Hy weet
wat die beste is; om nog te glo,
as sy hart wil breek,
en voel dat hy, boer alleen,
met God kan praat, en dank
as laag-druipend daal die reėn .


Bitter winter

Wat se mens as dit skemer word,

as oor die vlei die wilde eende

met ver verlate skreeue vlieg?

Wat weet mens in die winternag

as die slaap van jou gewyk het en jy

met oop oe in die donker le?

Is woorde dan nog nodig? Of weet

jy dat die sterflikheid soos reen

diep tot in die wortel week?


Oktober


Vir M.A.B


Die hele, lange dag het hier die wind gewaai,

die duine oor tot waar die swarte see nou skuim;

en oor die polder staan, verlate-ver, die maan;

die hemel is leeggewaai; in yle mis

bly daar geen sterre oor; maar net dié droewe glans:

die bleek-verlate duine en die vywers, waar

die silwer-grys pluime van die riet verwaai...

Maar in die Boland is dit nou Oktobermaand!


Die aarde dáár is stil en koel, en oor die vlei -

o onuitspreeklik teer, verlange van my hart! -

geur nou die aandblomme en vou langsaam hul blare oop.

Die hange van die berg is soet met jonge gras;

ek sien bo deur die bloue dennebos hoe breek

die helder brander van die eikegroen en slaan

bo teen die hoogste krans vas; en in die aand,

hoe roep die reënvoël daar: 'n ligte pêrelsnoer,

'n sprankelend yle vlam, 'n silwer ketting deur

die koele skemering... En teen die oostewind

stuif uit die hoë, goue kruin die denneboom!

O ek moet t'rug: ek kan my hart nie meer bedwing,

ek kan die liefde - lank bedrieg en wysgemaak -

van ál die dinge nie ontbeer... Hier waai die wind,

en deur die wind, die blare en die eerste reën.