Test
Download document

DU PLOOY ERLANK, Willem Jacob / EITEMAL


Die Begrafnis


“Is iemand dood? En wie was sy?”

‘n Vreemd’ling vra en stap verby.


Die bure sug: “So ‘n goeie vrou!

Haar skoonfamilie gaan ook rou.”


Die dokter frons: “Dit was nogal

‘n Allermoeilikste geval.”


Die predikant, manel en das,

Gebaar: “Ja, alle vlees is gras.”


Twee kleintjies, met dik snye brood,

Roep: “Omie, onse ma is dood.”


‘n Man staar eenkant op die grond

Met twee diep lyne om sy mond.


O nooi * van die velde


O nooi van die velde, wat is jy tog skoon !

Ek het jou in stede nog nimmer sien woon,

Maar ver op die velde, waar son altyd skyn,

Is mooier die noointjies en beter die wyn.


O nooi van die velde, wat is jy tog mooi !

Met wange van gloei van die more se rooi

Daar ver op die velde waar son altyd skyn

Is rooier die lippies en rooier die wyn.


O nooi van die velde, jou kus en jou lag,

soos water wat kabbel oor klippies so sag.

Daar ver oor die velde, waar son altyd skyn,

is soeter die soentjes en soeter die wyn.


O nooi van die velde, jou oë behou

die gloed van die hemel se sonnige blou..

As selfs op die velde die somer verdwyn,

bly warm die liefde en warm die wyn.

* nooi = liefje (Oud-Afrikaans)


Die Lied van Delila


Die rooi van awendlugte,

Die fluistering van die wind,

'n nooi se droewe sugte -

Dis drankies vir 'n kind.


Ek is moeg vir die geur van rose,

Ek is moeg van maneskyn,

Van kalmpies minnekose,

En ligte liefdewyn.


O skink my die rooi-rooi bloed

Uit 'n hart wat brand en bloei;

O gee my die liefdegloed

Wat tot brandende haat vergloei.


En soos brandhout wat 'n bloesem

Van vuur en vlam ontbloot,

Ontvang ek aan my boesem

Die liefde en die dood!