MARAIS, Eugene


Winternag

O koud is die windjie

en skraal.

En blink in die dof-lig

en kaal,

so wyd as die Heer se genade,

lê die velde in sterlig en skade.

En hoog in die rande,

versprei in die brande,

is die grassaad aan roere

soos winkende hande.

O treurig die wysie

op die ooswind se maat,

soos die lied van 'n meisie

in haar liefde verlaat.

In elk grashalm se vou

blink 'n druppel van dou,

en vinnig verbleik dit

tot ryp in die kou!


Die Dans Van Die Reen


O die dans van ons Suster!

Eers oor die bergtop loer sy skelm,

en haar oge is skaam;

en sy lag saggies.

En van ver af wink sy met die een hand;

haar armbande blink en haar krale skitter;

saggies roep sy.

Sy vertel die winde van die dans

en sy nooi hulle uit, want die werf is wyd en die bruilof groot.

Die grootwild jaag uit die vlakte,

hulle dam op die bulttop,

wyd rek hulle die neusgate

en hulle sluk die wind;

en hulle buk, om haar fyn spore op die sand te sien.

Die kleinvolk diep onder die grond hoor die sleep van haar voete,

en hulle kruip nader en sing saggies:

“Ons Suster! Ons Suster! Jy het gekom! Jy het gekom!”

En haar krale skud,

en haar koperringe blink in die wegraak van die son.

Op haar voorkop is die vuurpluim van die berggier;

sy trap af van die hoogte;

sy sprei die vaalkaros met altwee arms uit;

die asem van die wind raak weg.

O, die dans van ons Suster!



Skoppensboer


n Druppel gal is in die soetste wyn;

’n traan is op elk’ vrolik’ snaar,

in elke lag ’n sug van pyn,

in elke roos ‘n dowwe blaar.


Die een wat deur die nag

ons pret beloer

en laaste lag

is Skoppensboer.


Gewis en seker is die woord:

die skatte wat ons opvergaar,

ondanks die sterkste slot en koord

word net vir mot en roes bewaar.


Net pagters ons

van stof en dons

om oor te voer

aan Skoppensboer.


Die heerlikheid van vlees en bloed;

die hare wat die sonlig vang

en weergee in ’n goue gloed:

die dagbreek op elk’ sagte wang

en oge vol van sterreprag

is weerloos teen sy groter mag.

Alreeds begint die rimpel sny;

oor alles hou die wurm wag

en stof en as is al wat bly:


Want swart en droef,

die hoogste troef

oor ál wat roer,

is Skoppensboer.


L’Envoi


Gewis is alles net ’n grap!

Ons speel in die komedie mee

geblinddoek met ’n lamfer-lap

wat selfs die son ’n skadu gee.


Wat treur ons tog?

Viool en fluit maak nog geluid;

en lank die nag wat voorlê nog.

Al kan ons nooit volmaaktheid raak,

nog blink die oog en gloei die huid

wat heel die winter blomtyd maak.


Dus onverleë

lag ons maar mee

met elke toer

van Skoppensboer!