Download document

VORSTER, Dené



(Mis)verstand


Ek wou vir jou 'n kaalvoet gedig skryf, maar ek voel deesdae of ek myself in ander se skoene moet plaas. a feeling that will last. ek wil in die tekkies hardloop van die 4-jarige dogtertjie wat gister haar toon gestamp het. ek wil dans in die hakskoene van die meisie met die traan op haar wang (ek wonder wat gaan aan?). ek wil weet hoe dit voel om vinnig te hardloop en ek wil weet hoe dit voel om stadig te loop na 'n dag van werk werk werk en steeds nie weet hoe ek my kinders skooltoe gaan stuur nie (nie eers te praat van die huur nie). ek wil weet hoekom hy daai ander vrou gesoen het toe sy vrou parfuum agter haar oor spuit. it's too late. en hoekom sy haar waarde so onderskat (my skat, jy is alles werd). ek wil weet hoekom hy sy tuinier frederick noem (wat is jou naam?). en hoekom dra hy net een skoen? waarom weier sy om jammer te sê, wanneer sy weet sy hom dáár wil hê. waarom hy sy gay seun wegstuur en waarom haar seuntjie wegkruip agter 'n vet muur wanneer sy pa harder beginne praat. waarom het jy my verlaat? ek wil verstaan hoekom musiek harder beginne speel wanneer mense hulle gevoelens met mekaar beginne deel. en waarom jy aanhou om harte te steel. verbeel jou, iemand wat nie jou leuens opvreet nie. verbeel jou 'n wêreld wat nie glo in 'n dieet nie. ek wil weet hoekom mense eerlik is wanneer hulle drink en hoe dit voel om konstant aan selfmoord te dink (ek dink nie ons verstaan nie). ek wil verstaan hoekom ons nie wil verstaan nie. hoekom ons nie hou van gemengde soene in 7de laan nie. hoekom ons sê ons is mens met oë as 'n lens, en ons nie kan sién nie. ek wil verstaan hoekom hulle sê my vel is wit. faal. sal jy my aan die anderkant van die oorlog kom haal? en ek wil verstaan hóé jy van jou skoene hou terwyl daai rooikop met die verkeerde man trou. sal jy kaalvoet in die mall rond hol indien jy wou? hierdie is nie 'n kaalvoet gedig nie. dis 'n iets. 'n iets met leestekens sodat ek myself verstaan en hy my nie misverstaan nie. maar ek besef ek kán nie in jou skoene wees nie. ek kan dit net in uitroeptekens fluister, terwyl jy na jou hartklop luister. ek is só jammer dat ek nie is wat ek so graag vir jou in hierdie wêreld wil wees nie.