MALHERBE, D.F.


Slaap


Wat is die slaap 'n wondersoete ding!

Sag op haar bloue oë daal die vaak

soos maneskyn diep waterkuile raak

om daar te droom in silwer skemering.

Vir laas beef oor haar lippe 'n fluistering:

"Nag, Pappie." Ek merk hoe langsaam hy genaak,

wat drome soet tot werklikhede maak:

in vaderarms rus my lieweling.

Sluit so my oë, God, wanneer vir my

u Engel wenk ter laaste, lange rus

en ek van wilde woeling hier moet skei;

dat my dan stille drome huis toe sus

en sterke Hand deur duisternisse lei.

Sluit so my oë, God, as ek gaan rus.


Groet

Ek hoor die Lente se mantel ruis,
sy gloriemantel ruis oor die lande,
dit blink in die dou van suikerbosrande
en fonkel in die pad se gruis.

Dit suisel-sing in jong groen koring
en plooi in die vleie se kuil-ferweel,
dit ruis in blompronk van vlakte-doring,
oor die ou ou Karo se gousblomgeel.

Dit ruis oor slymgras van watervalwande
Waar die botterboom blink in die lig van die maan,
in die silwersy van tonteldoekrande
voor die dagbreek die nanagsterre verslaan.

Ek hoor die Lente se mantel ruis
as die siel van my nasie rys uit verkwyning,
en kennis, selfkennis se daeraadskyning
die sluimerland vang waar skaduwees huis.

Die grootpad word sigbaar deur bloeiende tuine,
deur ploegland en braakland in môre-grou,
die grootpad deurslinger ver glansende duine,
en agter versterwe die nanag se rou.

Ek hoor die Lente se mantel ruis,
en geeskrag skuif ope die sluimergordyne,
en wilsdade fonkel soos warm robyne,
en perlemoer blink in die grootpad se gruis.



Die see is vol van Eeuwigheid.

Die see is vol van eeuwigheid,

van golwedeining op en neer

tot wiegelwêrelde uitgespreid

op maat van eindloos kom en keer.


Uit watergraftes diep gedolf

rijs langvergete mensewee,

die winde dra van golf tot golf,

van golf tot kus die treursang mee.


Die see is vol van klaaggeluid,

van stemme wat geen rus kan krij,

van siele wat eeuw-in eeuw-uit

in smart-herhaling hooploos lij.


Oor waterwijdtes om en om

tot marmerrand van verre kus

ruis daar van oos tot wes, alom,

'n eeuwesang van nimmer-rus.


Die golwe kom, die golwe keer,

in vreugdespel van sonnelus,

in pikswart nag van stormeweer,

en sing hul lied van nimmer-rus.


Daar's eeuwigheid in seegeluid,

in ver gedreun van kus tot kus,

waar golwe wieg eeuw-in eeuw-uit

op maat van nimmer-nimmer-rus.