VAN WYK LOUW, N.P.
Dias
…..
Dit is die keerpunt dan. Hier loop en kraak
ons tog maar net weer deur die skulpe
by hierdie roemlose riviertjie in ’n land
wat ewe minderwaardig is,
en wat geen mens sal prys en sê: Dis myne.
…..
En nou’t ek niks gedoen nie,
en is die werk gedaan. Ek was ’n klip;
ek was nie bouheer nie. En hinderlik
en vaag vermoed ek dat my daad, my krag,
anders sal groei as ek gemeen het, wild
nog sy lote uitstoot in ’n aarde
wat ek nie ken nie, onder mense en volke
wat anders wil.
…..
Lucifer
…..
So het hy gestort in blinde
nag-angstelike vaart deur alle
verdiepinge van sterre en winde,
deur leegtes, wiss’ling van kristalle
gedaantes, skeemring, duisternisse
afgrondelik diep verborgen van
die hoë lig, langs die gewisse
steil vallyn van die smart, verban
van die heldre vreug waarheen hy wou
met roei van blanke vlerk bo vlerk
opstyg in saligheid en vou
die magtige vleuels tot rus in God.
…..
Germanicus
…..
Selfs as U sag praat, praat die blinde mag.
Dis alles gryp, verneder, deeglik hou –
eers met die swaard, dán met die woord, die vriendskap;
of eers die vriendskap, dán eise, dan die swaard.
Só’t Herman jou leer ken. Maar lós staan hy.
Gaan haal hom in sy land, hy’s altyd daar!
Hy sal trugveg tot in die skemer noorde
…..
U, die stil Caesar, keer vannag
die jaghonde uit Rome van hul prooi;
vir ons is dit iets vreemds: belediging
ons aangedaan was dikwels al die misdaad
waarvoor ons dan gestraf moes word – deur Rome,
die klaer en die regter tegelyk,
soos magtiges die mag het om te wees)
…..
Hul wil ’n heerser hê en het dié lief
omdat hy magtig is bo hulle drifte.
Hulle treur – en weet dit nie – omdat één sterf
van dié wat min word, en wat staan as grenswag
[Stadig] tussen hulle self en hulle waansin.)
…..
CLEMENS
Een praat hier van genade, ek weet nie wié,
en klink barmhartig, maar hy klink Romein.
Ek wil jou jammer nie! Ek spu dit uit,
ek kots dit op jou klere trug.
Ek het die pyn se laaste kerf bereik,
meer kan julle nie, dan sterf ek, dan’s dit oor.
Die dood is geen genade, rus van die pyn
is geen genade; jul mag is aan sy grens
met my; en ek lê stil soos in my moer
in donker bloed gebêre, ek lê en dink.
Deur my twee duister oë sien ek julle:
jou, Caesar, sal die waansin en die vrees
van daad tot daad dryf tot jy eensaam is,
afskuwelik vir jouself, en wens jy was
soos ek, so lank reeds stil; en jy, die man
wat hier praat van genade – jy is jonk,
so klink dit my; jy ken nie bloed, waarskynlik;
jy kan die weelde van jou jammer troetel
in jou ryk kamer waar jy kunstig leef
en mooi en helder dinge dink, en roep
op slawe om jou kos te bring, ‘n boek te lees.
musiek te maak in jou klein warm hoek
van hierdie bloedige en geweldige Ryk;
as jy wil jammer wees, gaan uit, gaan kyk
in die slawestalle waar ons saamgehok lê,
dier vas aan dier, vuil, liederlik, vol haat;
gaan na jou grense waar jou volk self sterf,
waar alles sterf, waar ál wat vry is, sterf,
waar Rome met sy lang blink sekel maai:
vir Caesar eer, slawe vir jou, rykdom
waarop jy sag kan lê en jou bleek jammerte
kan streel; op my smyt jy dit weg…
Die vrees, Caesar, die vrees
klink in jou woorde tog: dat hierdie o
…..