Download document

OLIPHANT, Vincent



Woorde


my woorde het nie die krag
om bose magte tot 'n val te bring nie
my woorde kan bloot sing

my woorde is nie 'n dak
om onder te skuil nie
my woorde is swak

my woorde kan nie keer
dat ons die kromme note haal nie
my woorde is kaal

glo tog
my woorde het nie die byt
van koeëls en grofgeskut nie
nee
my woorde kan bloot bid
en pleit
en wens
medeburgers van die lewe
dat ons van grense sal vergeet
en bloot mens sal wees
en medemens