Download document

SMIT, Bartho



Die Keiser

.....

DIPLOMAAT: Manjifiek.

KEISERIN: Dis soos ’n sprokiestad wat daar in die verte uit die oerwoud uit oprys. Dis soos ’n droom …

KEISER: En julle sê dis góúd wat daar so blink in die son?

KULTUUR: Suiwer goud, U majesteit. ’n Monument vir ons nageslagte.

KEISER: Waar kry julle soveel goud? Ek dag ons Beskawingsprogram vir die volk het ons skatkiste leeggemaak …

KULTUUR: Dit kom uit ons myne uit, U Majesteit.

KEISER: Het daar darem nog iets oorgebly vir die toekoms?

KULTUUR: Natuurlik, U Majesteit.

HOFNAR: Ons land is vrót van die goud, my Kroon.

KEISER: Ek sien. (Hy loop terug na sy troon; die Keiserin ook.)

KULTUUR: Vorder volgens plan, U Majesteit.

KEISER: Is almal al gevoed en gekleed soos óns?

KULTUUR: Hulle het meer as wat hulle nodig het, U Majesteit.

HOFNAR: Loop sommer broek oor die skouer en skoene in die hand, my Kroon. Kry glo te warm.

KULTUUR: Hy oordryf, U Majesteit. Daar ís van hulle wat kla hulle kry te warm; en party van hulle verruil die klere aan die mense oorkant ons grense; maar …

KEISER: En hoekom weet ek niks hiervan nie?

HOFNAR: My Kroon is glo ’n idealis en ’n dromer.

KEISER (aan Kultuur ): So?

KULTUUR: U is die grootste keiser wat vandag leef, U Majesteit.

MAARSKALK: Presies.

DIPLOMAAT: Die hele wêreld praat al van u as die Heilige Keiser.

KEISER: Heilig …?

DIPLOMAAT: Ja, U Majesteit – oor alles wat u gedoen het om die volk uit sy slawerny en armoede te bevry en op te hef.

KULTUUR: Daarom wil ons u nie belas met onbenullighede nie.

KEISER: Die welvaart en beskawing van die volk is nie onbenullighede nie.

KULTUUR: Natuurlik nie, U Majesteit. Maar ons is nog besig om die mense op te voed – en dít kan nie oornag gedoen word nie.

.....